2015-07-26

Geregtigheid en Reg: YHWH Is God - Wie Is Soos Hy?


"Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; 
goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit."

Psalms 89:1-52
[1]  ‘n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. (89:2) Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.
[2]  (89:3) Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele—daar bevestig U u trou.
[3]  (89:4) Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene, met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
[4]  (89:5) Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.
[5]  (89:6) En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges.
[6]  (89:7) Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge,
[7]  (89:8) ‘n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?
[8]  (89:9) o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!
[9]  (89:10) U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.
[10]  (89:11) U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.
[11]  (89:12) Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid—U het dit gegrond.
[12]  (89:13) Die noorde en die suide—U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.
[13]  (89:14) U het ‘n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.
[14]  (89:15) Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.
[15]  (89:16) Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig.
[16]  (89:17) In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.
[17]  (89:18) Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.
[18]  (89:19) Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.
[19]  (89:20) Toe het U in ‘n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan ‘n held, ‘n uitverkorene uit die volk verhef.
[20]  (89:21) Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,
[21]  (89:22) met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.
[22]  (89:23) Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;
[23]  (89:24) maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.
[24]  (89:25) En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.
[25]  (89:26) En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.
[26]  (89:27) Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!
[27]  (89:28) Ja, Ék sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.
[28]  (89:29) Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.
[29]  (89:30) En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.
[30]  (89:31) As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;
[31]  (89:32) as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,
[32]  (89:33) dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.
[33]  (89:34) Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.
[34]  (89:35) Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
[35]  (89:36) Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!
[36]  (89:37) Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.
[37]  (89:38) Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.
[38]  (89:39) Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.
[39]  (89:40) U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.
[40]  (89:41) U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings ‘n puinhoop gemaak.
[41]  (89:42) Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy ‘n smaad geword.
[42]  (89:43) U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.
[43]  (89:44) Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.
[44]  (89:45) U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.
[45]  (89:46) U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.
[46]  (89:47) Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos ‘n vuur?
[47]  (89:48) Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!
[48]  (89:49) Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.
[49]  (89:50) Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met ‘n eed beloof het in u trou?
[50]  (89:51) Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,
[51]  (89:52) waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.
[52]  (89:53) Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.