2015-07-25

100 Jaar Oorlog


Matthéüs 23:1-39
[1]  Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek
[2]  en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses.
[3]  Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.
[4]  Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.
[5]  En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.
[6]  En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges
[7]  en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!
[8]  Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.
[9]  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.
[10]  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.
[11]  Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.
[12]  Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.
[13]  Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.
[14]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang.
[15]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.
[16]  Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.
[17]  Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?
[18]  En: Elkeen wat sweer by die altaar—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.
[19]  Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?
[20]  Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is;
[21]  en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon;
[22]  en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.
[23]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
[24]  Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!
[25]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.
[26]  Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.
[27]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.
[28]  So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.
[29]  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;
[30]  en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.
[31]  Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.
[32]  Maak die maat van julle vaders dan vol!
[33]  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
[34]  Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,
[35]  sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.
[36]  Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.
[37]  Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!
[38]  Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!
[39]  Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!


Matthéüs 13:37-43
[37]  En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens,
[38]  en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,
[39]  en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.
[40]  Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:
[41]  die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,
[42]  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
[43]  Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

Psalms 68:1-35
[1]  Vir die musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm. ‘n Lied. (68:2) God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
[2]  (68:3) Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
[3]  (68:4) Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
[4]  (68:5) Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
[5]  (68:6) ‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
[6]  (68:7) God laat die eensames woon in ‘n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in ‘n dor land.
[7]  (68:8) o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
[8]  (68:9) het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
[9]  (68:10) Met ‘n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het U dit versterk.
[10]  (68:11) U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
[11]  (68:12) Die Here het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ‘n groot skare:
[12]  (68:13) Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
[13]  (68:14) As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
[14]  (68:15) Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
[15]  (68:16) ‘n Berg van God is die berg Basan, ‘n berg met toppe is die berg Basan.
[16]  (68:17) Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.
[17]  (68:18) Die waens van God is tien duisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
[18]  (68:19) U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God!
[19]  (68:20) Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
[20]  (68:21) God is vir ons ‘n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.
[21]  (68:22) Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.
[22]  (68:23) Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see;
[23]  (68:24) sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê.
[24]  (68:25) o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.
[25]  (68:26) Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan.
[26]  (68:27) Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel!
[27]  (68:28) Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda—hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali.
[28]  (68:29) Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het!
[29]  (68:30) Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring.
[30]  (68:31) Dreig die wilde gedierte van die riet—die trop stiere saam met die kalwers van die volke—die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë.
[31]  (68:32) Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.
[32]  (68:33) o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela.
[33]  (68:34) Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, ‘n magtige stem.
[34]  (68:35) Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.
[35]  (68:36) Vreeslik is God uit jou heiligdomme, o Israel! Die God van Israel—Hy gee aan die volk sterkte en kragte. Geloofd sy God!