2015-06-02

Tsaddie: Die Weduweeskap van Jerusalem - Vervalle Gemeenskap

Jerusalem, O, Jerusalem
Jou poorte lê verdor
Jou glans het verwelk
En jou Man het jy verloor
Jou skatkamers is gestroop
In plaas van trane en koor
Is jou gelaat in konstante wanhoop
'n Weduwee het jy geword
Maar sonder as en roukleed
Sonder smart loop jy rond
Jy verkoop jouself ten goede
Maar jou skepe dwaal verlate
In sirkels vol met armoede

'n Geween vanuit die Gees
Huil in jou plek tevergeefs
Selfs Haar het jy verstoot
En jou erfenis so verloot
Kerm en kla oor jou dogters
want hulle het ook so gedoen
Hulle volg jou orals rond met stoters
En verklap hulle gewoontes in 'n Judas soen
Waarom wil jy verlate bly?
Wanneer jy so konstant moet ly?
Soveel is al na jou gestuur
Die aantal groter dan Abel se skuur

Jerusalem, O, Jerusalem
Jou poorte lê verdor
Jou glans het verwelk
En jou Man het jy verloor
Jou skatkamers is gestroop
In plaas van trane en koor
Is jou gelaat in konstante wanhoop
'n Weduwee het jy geword
Maar sonder as en roukleed
Sonder smart loop jy rond
Jy verkoop jouself ten goede
Maar jou skepe dwaal verlate
In sirkels vol met armoede

Klaagliedere 1:1-22
[1]  Alef. Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.
[2]  Bet. Bitterlik ween sy snags—haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.
[3]  Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om ‘n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in.
[4]  Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter.
[5]  He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.
[6]  Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit.
[7]  Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.
[8]  Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy ‘n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.
[9]  Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy ‘n trooster het. Sien my ellende aan, HERE, want die vyand hou hom groot.
[10]  Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.
[11]  Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, HERE, en merk op dat ek ‘n veragte geword het.
[12]  Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar ‘n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die HERE my bedroef het op die dag van sy toorngloed.
[13]  Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ‘n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.
[14]  Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.
[15]  Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ‘n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.
[16]  Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.
[17]  Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die HERE het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde ‘n voorwerp van afsku geword.
[18]  Sade. Regverdig is Hy, die HERE, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.
[19]  Kof. Ek het geroep na my liefhebbers—hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik.
[20]  Resj. Aanskou, HERE, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes.
[21]  Sjin. Hulle hoor dat ek sug, ek het geen trooster nie; al my vyande hoor van my onheil, hulle is bly dat U dit gedoen het. U laat die dag kom wat U uitgeroep het, dat hulle kan wees soos ek,
[22]  Tau. dat al hulle boosheid voor u aangesig kom; en doen aan hulle soos U aan my gedoen het vanweë al my oortredinge, want my versugtinge is baie, en my hart is krank.

Esra 4:1-24
[1]  En toe die teëstanders van Juda en Benjamin hoor dat die ballinge ‘n tempel bou vir die HERE, die God van Israel,
[2]  het hulle aangekom na Serubbábel en na die familiehoofde en aan hulle gesê: Laat ons saam met julle bou, want net soos julle soek ons julle God, en aan Hom offer ons van die dae van Esar-Haddon af, die koning van Assirië, wat ons hierheen laat optrek het.
[3]  Maar Serubbábel en Jésua en die ander familiehoofde van Israel het aan hulle gesê: Dit sal nie gaan dat julle saam met ons ‘n huis vir onse God bou nie, maar óns alleen sal vir die HERE, die God van Israel, dit bou soos koning Kores, die koning van Persië, ons beveel het.
[4]  Toe het die volk van die land die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie.
[5]  En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië.
[6]  En onder die regering van Ahasvéros, in die begin van sy regering, het hulle ‘n aanklag geskrywe teen die inwoners van Juda en Jerusalem.
[7]  En in die dae van Artasásta het Bislam, Mítredat, Tábeël en sy ander partygenote aan Artasásta, die koning van Persië, geskrywe; en die skrif van die brief was Aramees geskrywe en in Aramees vertaal.
[8]  Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, het ‘n brief geskrywe teen Jerusalem aan Artasásta, die koning, van die volgende inhoud:
[9]  Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote, die Dinaïete, die Afarsatgiete, die Tarpeliete, die Afarsiete, die Arkewiete, die Babiloniërs, die Susangiete, naamlik die Elamiete,
[10]  en die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaría en die orige gebied wes van die Eufraat laat woon het. En nou—
[11]  dit is ‘n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: Aan koning Artasásta, u dienaars, die manne wes van die Eufraat. En nou—
[12]  aan die koning word bekend gemaak dat die Jode wat van u af na ons opgetrek het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die rebelse en slegte stad op te bou: die mure voltooi hulle en die fondamente herstel hulle.
[13]  Laat dit nou aan die koning bekend wees dat hulle, as dié stad opgebou en die mure voltooi is, geen belasting, opbrings of tol sal gee nie—wat aan die inkomste van die konings skade sal doen.
[14]  Aangesien ons nou die sout van die paleis geëet het en dit ons nie pas om die smaad van die koning aan te sien nie, daarom stuur ons en laat die koning weet,
[15]  dat hulle kan nasoek in die kroniekboek van u vaders; dan sal u in die kroniekboek vind en daaruit verneem dat dié stad ‘n rebelse stad was wat aan konings en provinsies skade gedoen het, en dat hulle van ouds af daarin oproer verwek het; daarom is dié stad verwoes.
[16]  Ons maak die koning bekend dat, as dié stad opgebou en die mure voltooi word, u daardeur geen deel sal hê wes van die Eufraat nie.
[17]  Die koning het as antwoord gestuur: Aan Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote wat in Samaría en in die orige gebied wes van die Eufraat woon: Heil! En nou—
[18]  die brief wat julle aan ons gestuur het, is aan my in vertaling voorgelees.
[19]  En deur my is bevel gegee, en hulle het gesoek en gevind dat dié stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie en oproer daarin verwek is.
[20]  En magtige konings was daar oor Jerusalem wat geheers het oor die hele gebied wes van die Eufraat, en belasting, opbrings en tol is aan hulle gegee.
[21]  Gee nou bevel dat dié manne moet ophou en hierdie stad nie opgebou mag word totdat deur my bevel gegee sal word nie.
[22]  En wees gewaarsku om hierin geen nalatigheid te begaan nie, dat daar nie groter skade tot nadeel van die konings ontstaan nie.
[23]  Net toe die afskrif van die brief van Artasásta, die koning, aan Rehum en Simsai, die skrywer, en hulle partygenote voorgelees is, het hulle haastig na Jerusalem, na die Jode gegaan en hulle met geweld en mag laat ophou.
[24]  Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.

Psalms 82:1-8
[1]  ‘n Psalm van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.
[2]  Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela.
[3]  Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg.
[4]  Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.
[5]  Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel.
[6]  Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—
[7]  nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val.
[8]  Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.