2015-06-03

Koef: Die Berg Van JHWH-Jireh

Jesaja 2:1-22
[1]  Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem.
[2]  En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.
[3]  En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.
[4]  En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.
[5]  Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!
[6]  Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel.
[7]  En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie.
[8]  Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het.
[9]  So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie.
[10]  Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.
[11]  Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
[12]  Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
[13]  en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan;
[14]  en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;
[15]  en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;
[16]  en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.
[17]  Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
[18]  En die afgode sal geheel en al verdwyn.
[19]  En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
[20]  In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise;
[21]  om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
[22]  Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!

Miga 5:1-15
[1]  (4:14) Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het ‘n wal teen ons opgegooi; met ‘n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.
[2]  (5:1) En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
[3]  (5:2) Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ‘n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.
[4]  (5:3) En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die HERE, in die majesteit van die Naam van die HERE sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.
[5]  (5:4) En Hy sal vrede wees. Wanneer Assur in ons land kom en hy ons paleise wil betree, sal ons teenoor hom sewe herders stel, ja, agt vorste uit die mense.
[6]  (5:5) En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.
[7]  (5:6) Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die HERE, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen mensekind vertoef nie.
[8]  (5:7) En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos ‘n leeu onder die diere van die woud, soos ‘n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red.
[9]  (5:8) Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal uitgeroei word.
[10]  (5:9) En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig.
[11]  (5:10) Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek.
[12]  (5:11) Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie.
[13]  (5:12) En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie.
[14]  (5:13) En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes.
[15]  (5:14) En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie.

Openbaring 9:1-21
[1]  En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.
[2]  En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.
[3]  En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.
[4]  En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.
[5]  En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.
[6]  En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.
[7]  En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.
[8]  En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.
[9]  En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.
[10]  En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.
[11]  En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.
[12]  Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.
[13]  En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,
[14]  en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.
[15]  Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.
[16]  En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tien duisend maal tien duisend; en ek het hulle getal gehoor.
[17]  En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.
[18]  Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;
[19]  want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.
[20]  En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.
[21]  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.