2015-06-01

Verootmoediging

Psalms 22:1-31
[1]  Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." ‘n Psalm van Dawid. (22:2) My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
[2]  (22:3) My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.
[3]  (22:4) Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!
[4]  (22:5) Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.
[5]  (22:6) Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.
[6]  (22:7) Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk.
[7]  (22:8) Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:
[8]  (22:9) Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!
[9]  (22:10) Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.
[10]  (22:11) Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.
[11]  (22:12) Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.
[12]  (22:13) Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.
[13]  (22:14) Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
[14]  (22:15) Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.
[15]  (22:16) My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
[16]  (22:17) Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
[17]  (22:18) Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
[18]  (22:19) Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
[19]  (22:20) Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!
[20]  (22:21) Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond.
[21]  (22:22) Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor!
[22]  (22:23) Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
[23]  (22:24) Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel!
[24]  (22:25) Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.
[25]  (22:26) Van U kom my lof in ‘n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.
[26]  (22:27) Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!
[27]  (22:28) Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
[28]  (22:29) Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.
[29]  (22:30) Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
[30]  (22:31) ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.
[31]  (22:32) Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.

Nehemía 9:1-38
[1]  En op die vier en twintigste dag van hierdie maand het die kinders van Israel vergader en gevas in rouklere en met grond op hulle hoof.
[2]  En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.
[3]  En hulle het van hulle plek opgestaan, en gedurende ‘n vierde deel van die dag gelees uit die wetboek van die HERE hulle God, en gedurende ‘n vierde deel belydenis gedoen en die HERE hulle God aanbid.
[4]  En op die verhoog van die Leviete het Jésua en Bani, Kádmiël, Sebánja, Bunni, Serébja, Bani, Kenáni opgestaan en met ‘n groot stem die HERE hulle God aangeroep.
[5]  En die Leviete Jésua en Kádmiël, Bani, Hasábneja, Serébja, Hodía, Sebánja, Petágja het gesê: Staan op, loof die HERE julle God van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!
[6]  U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.
[7]  U is die HERE, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.
[8]  En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.
[9]  En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor,
[10]  en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ‘n Naam gemaak soos dit vandag is.
[11]  En die see het U voor hulle geklowe, sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het; maar hulle vervolgers het U in die kolke gewerp soos ‘n klip in sterk waters.
[12]  En U het hulle gelei met ‘n wolkkolom bedags en met ‘n vuurkolom snags om die pad vir hulle te verlig waar hulle langs moes trek.
[13]  En op die berg Sinai het U neergedaal en met hulle gespreek uit die hemel, en U het aan hulle regte verordeninge en betroubare wette, goeie insettinge en gebooie gegee.
[14]  En u heilige sabbat het U aan hulle bekend gemaak, en gebooie en insettinge en ‘n wet deur die diens van u kneg Moses hulle beveel.
[15]  En U het hulle brood gegee uit die hemel vir hulle honger en water vir hulle uit die rots laat uitkom vir hulle dors, en aan hulle gesê om die land in besit te gaan neem waaromtrent U u hand opgehef het om hulle dit te gee.
[16]  Maar hulle, naamlik ons vaders, het vermetel gehandel en hulle nek verhard en nie na u gebooie geluister nie;
[17]  ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard en in hul wederstrewigheid ‘n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny. Maar U is ‘n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie.
[18]  Selfs toe hulle ‘n gegote kalf vir hulle gemaak en gesê het: Dit is jou gode wat jou uit Egipte laat optrek het! —en hulle groot, afskuwelike dinge gedoen het,
[19]  het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie.
[20]  En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors.
[21]  En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie.
[22]  En U het aan hulle koninkryke en volke gegee en dié volgens bepaalde grense verdeel; en hulle het die land van Sihon, ja, die land van die koning van Hesbon, en die land van Og, die koning van Basan, in besit geneem.
[23]  En U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders gesê het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem.
[24]  En die kinders het ingegaan en die land in besit geneem, en U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle onderwerp en dié in hulle hand gegee, hulle konings sowel as die volke van die land, om met hulle te handel soos hulle dit goedvind.
[25]  En hulle het versterkte stede en ‘n vet land ingeneem, en huise in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid.
[26]  Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.
[27]  Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het U uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.
[28]  Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.
[29]  En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie, en teen u verordeninge, daarteen het hulle gesondig, waarvan geld dat ‘n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en hulle het ‘n wederstrewige skouer gegee en hulle nek verhard en nie geluister nie.
[30]  En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.
[31]  Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ‘n genadige en barmhartige God.
[32]  Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het van die dae van die konings van Assur af tot vandag toe.
[33]  Maar U is regverdig in alles wat oor ons gekom het; want U het getrou gehandel, maar ons het goddeloos gehandel;
[34]  en ons konings, ons owerstes, ons priesters en ons vaders het u wet nie volbring en na u gebooie en u getuienisse waarmee U hulle gewaarsku het, nie geluister nie.
[35]  En hulle het in hul koninkryk en by u groot seën wat U hulle geskenk het, en in die wye en vet land wat U aan hulle oorgegee het, U nie gedien nie en hulle nie van hul verkeerde handelinge bekeer nie.
[36]  Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet—daarin is ons slawe.
[37]  En dit vermeerder sy opbrings vir die konings wat U oor ons gestel het om ons sondes ontwil, en hulle heers oor ons liggame en oor ons vee na hulle willekeur, en ons is in ‘n groot benoudheid.
[38]  Maar op grond van dit alles sluit ons ‘n vaste verbond en beskryf dit; en op die verseëlde stuk het ons owerstes, ons Leviete, ons priesters geteken.

Matthéüs 10:1-42
[1]  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
[2]  En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer;
[3]  Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs;
[4]  Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het.
[5]  Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie;
[6]  maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.
[7]  En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
[8]  Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.
[9]  Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie;
[10]  geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ‘n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd.
[11]  En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek.
[12]  En as julle die huis ingaan, groet dit;
[13]  en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.
[14]  En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.
[15]  Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
[16]  Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.
[17]  Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel.
[18]  En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ‘n getuienis vir hulle en vir die heidene.
[19]  Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek;
[20]  want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.
[21]  Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.
[22]  En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
[23]  En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.
[24]  ‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie.
[25]  Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!
[26]  Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
[27]  Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.
[28]  En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
[29]  Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
[30]  En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
[31]  Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
[32]  Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.
[33]  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.
[34]  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.
[35]  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.
[36]  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.
[37]  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
[38]  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.
[39]  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
[40]  Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.
[41]  Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.
[42]  En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

Jesaja 11:1-16
[1]  Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;
[2]  en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.
[3]  En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;
[4]  maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.
[5]  En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.
[6]  Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.
[7]  Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;
[8]  en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.
[9]  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.
[10]  En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.
[11]  En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
[12]  en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.
[13]  Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.
[14]  Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig.
[15]  En die HERE sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe strome, sodat ‘n mens met skoene daardeur kan loop.
[16]  En daar sal ‘n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het.