2015-07-12

Eiendomsreg: JHWH - Die Maker Van Alles


Wat sê jy daar?
Wat wil jy nou kom verklaar?
Met 'n bedorwe stuk papier
Met jou pen en jou gier
Met reëls van basterdom
En 'n koeël vir die lugballon
Met jou verlate begeerte van 'n eie som
Met 'n selfaangestelde wisselkoers
Vir wie wil jy nou voorsê met jou amandel mousse?

Kyk, laat dit duidelik verstaan word:
Niemand besit 'n ander of hul platte gord
Jou eie "ek" staan dronk in wandel
En met jou kreet verwyder jy die angel
Maar die gif is al in die are
Deur jou doen en late
Maar self dink jy dis net genade
Terwyl jou ander poot die res sien as vergaande
Skud jouself wakker en mor oor jou eie dade

Kyk, daar kom 'n tyd en dit is nou:
Want elke liewe een sal self hulle toekoms bou
Nie meer afhanklik van 'n ander se klou
En met net God as Heerser en  Bouer van blou
So sal elke liewe een sy of haar kant moet bring
En voordat die son vir die soveelste keer sak en uitkring
So sal dit dan gaan vir elke kind in hierdie ding
Saai sal jy saai, en maai sal jy maai
Maar elke dag sal wees soos 'n gebed wat draai en draai

Sagaria 7:1-14
[1]  En in die vierde jaar van koning Daríus het die woord van die HERE tot Sagaría gekom, op die vierde dag van die negende maand, in die maand Kislew.
[2]  Bet-el het toe Saréser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die aangesig van die HERE om genade te smeek
[3]  deur aan die priesters wat by die huis van die HERE van die leërskare was, en aan die profete die vraag te stel: Moet ek in die vyfde maand ween met vas soos ek nou al so baie jare gedoen het?
[4]  Daarop het die woord van die HERE van die leërskare tot my gekom en gesê:
[5]  Spreek tot die hele volk van die land en tot die priesters dit: As julle, nou sewentig jaar lank, in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het, het julle toe werklik ter wille van My gevas?
[6]  En as julle eet en as julle drink, is dit dan nie júlle wat eet en júlle wat drink nie?
[7]  Is dit nie so met die woorde wat die HERE deur die diens van die vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en rustig was, en ook die Suidland en die Laeveld nog bewoond was?
[8]  Verder het die woord van die HERE tot Sagaría gekom en gesê:
[9]  So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: Spreek ‘n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.
[10]  En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.
[11]  Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie.
[12]  Ook het hulle hul hart soos ‘n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die leërskare ‘n groot toorn gekom.
[13]  Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie—so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die HERE van die leërskare gesê.
[14]  Maar Ek sal hulle wegstorm onder al die nasies wat hulle nie geken het nie, terwyl die land agter hulle verwoes is, sodat niemand meer heen en weer trek nie. So het hulle dan die kostelike land tot ‘n wildernis gemaak.

Jesaja 40:1-31
[1]  Troos, troos my volk, sê julle God.
[2]  Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.
[3]  ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God!
[4]  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.
[5]  En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
[6]  ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld.
[7]  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
[8]  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
[9]  o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
[10]  Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
[11]  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
[12]  Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal?
[13]  Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?
[14]  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
[15]  Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie!
[16]  En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.
[17]  Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.
[18]  By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
[19]  Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.
[20]  Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie.
[21]  Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?
[22]  Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon.
[23]  Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid;
[24]  skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel.
[25]  By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
[26]  Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.
[27]  Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?
[28]  Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
[29]  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
[30]  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
[31]  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.