2015-07-01

Bekering tot JHWH


Maleági 1:1-14
[1]  Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági.
[2]  Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad,
[3]  maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee.
[4]  As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid!
[5]  En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied van Israel!
[6]  ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?
[7]  Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik.
[8]  En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.
[9]  Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen—sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.
[10]  Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die HERE van die leërskare, en in ‘n offer uit julle hand het Ek geen behae nie.
[11]  Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ‘n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare.
[12]  Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref—sy spys is veragtelik.
[13]  En julle sê: Kyk, wat ‘n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere—so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE.
[14]  Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee ‘n manlike dier is, ‘n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek is ‘n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.


Hoséa 8:1-14
[1]  Die basuin aan jou mond! Soos ‘n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het.
[2]  My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U.
[3]  Israel het die goeie verwerp—die vyand sal hom agtervolg!
[4]  Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf.
[5]  Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees?
[6]  Want dit is ook uit Israel: ‘n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word—die kalf van Samaría.
[7]  Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind.
[8]  Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is.[9]  Want húlle het opgetrek na Assur—’n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! —hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf.
[10]  Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê.
[11]  Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig—die altare het vir hom tot sonde geword.
[12]  Ek het hom tien duisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag.
[13]  Slagoffers, My aangebied, offer hulle—vleis is dit, en hulle eet; die HERE het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte.
[14]  Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda ‘n menigte versterkte stede, daarom sal Ek ‘n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer.

Hoséa 9:1-17
[1]  Wees nie bly met gejuig, o Israel, soos die volke nie, want jy het gehoereer van jou God af weg; jy het hoereloon liefgehad op al die koringdorsvloere.
[2]  Dorsvloer en parskuip sal hulle nie voed nie, en die mos sal hulle in die steek laat.
[3]  Hulle sal in die land van die HERE nie bly nie; maar Efraim sal na Egipte teruggaan, en in Assur sal hulle eet wat onrein is.
[4]  Hulle sal vir die HERE geen wyn uitgiet nie, en hulle slagoffers sal vir Hom nie welgevallig wees nie; soos tranebrood sal hulle spys vir hulle wees. Almal wat daarvan eet, word verontreinig; want hulle brood is vir hulleself: dit sal nie in die huis van die HERE kom nie.
[5]  Wat sal julle dan doen op die feestyd en op die feesdag van die HERE?
[6]  Want kyk, hulle gaan heen weens die verwoesting: Egipte sal hulle versamel, Mof hulle begrawe; onkruid sal hulle skat van silwergoed in besit neem, dorings in hulle tente wees.
[7]  Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom; Israel sal dit ervaar! Die profeet word ‘n dwaas, die man van die gees ‘n waansinnige, weens die grootheid van jou ongeregtigheid, en omdat die vyandskap groot is.
[8]  Efraim is ‘n spioen teenoor my God; wat die profeet aangaan, die net van ‘n voëlvanger is op al sy weë gesprei, vyandskap in die huis van sy God.
[9]  Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes.
[10]  Ek het Israel gevind soos druiwe in die woestyn; Ek het julle vaders gesien soos voorvye aan die vyeboom in sy eerste groei; maar húlle het na Baäl-Peor gekom en hulle aan die skandegod toegewy en ‘n verfoeisel geword net soos die voorwerp van hulle liefde.
[11]  Efraim—sy heerlikheid sal wegvlieg soos ‘n voël. Geen geboorte, geen moederskap, geen ontvangenis meer nie!
[12]  Ja, al sou hulle hul kinders grootmaak, Ek maak hulle kinderloos, sonder mense; ja, wee hulleself ook as Ek van hulle wyk.
[13]  Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in ‘n mooi omgewing, maar Efraim sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring.
[14]  Gee hulle, o HERE—wat sal U gee? —gee hulle ‘n kinderlose moederskoot en uitgedroogde borste.
[15]  Al hulle boosheid is byeen in Gilgal, want daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie. Al hulle vorste is opstandig.
[16]  Efraim is getref, hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie; ook wanneer hulle kinders baar, sal Ek nogtans die lieflinge van hulle skoot ombring.
[17]  My God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie, en hulle sal rondswerwe onder die nasies.

Hoséa 10:1-15
[1]  Israel was ‘n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.
[2]  Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.
[3]  Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die HERE nie gevrees nie; en die koning—wat sou hy vir ons kan doen?
[4]  Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit—en soos ‘n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.
[5]  Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is.
[6]  Hy sal ook self na Assur weggevoer word as ‘n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.
[7]  Samaría word vernietig, sy koning is soos ‘n spaander op die water.
[8]  En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!
[9]  Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle—moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?
[10]  Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.
[11]  Maar Efraim is ‘n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.
[12]  Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.
[13]  Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.
[14]  Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.
[15]  Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.

Hoséa 11:1-12
[1]  Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.
[2]  Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.
[3]  En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.
[4]  Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.
[5]  Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur—dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer.
[6]  En die swaard sal geswaai word in sy stede en sy grendels vernietig en verteer weens hulle planne.
[7]  Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie.
[8]  Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.
[9]  Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ‘n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.
[10]  Hulle sal agter die HERE aan trek; Hy sal brul soos ‘n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom.
[11]  Hulle sal sidderende aankom soos ‘n voëltjie uit Egipte en soos ‘n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE.
[12]  (12:1) Efraim het My omsingel met leuens, en die huis van Israel met bedrog; terwyl Juda nog altyd bandeloos is teenoor God, ja, teenoor die Allerheiligste, die Getroue.

Hoséa 12:1-14
[1]  (12:2) Efraim hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit ‘n verbond met Assur, terwyl olie na Egipte gevoer word.
[2]  (12:3) Die HERE het ook ‘n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade.
[3]  (12:4) In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.
[4]  (12:5) Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.
[5]  (12:6) En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.
[6]  (12:7) En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.
[7]  (12:8) Kanaän—in sy hand is daar ‘n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers.
[8]  (12:9) Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my ‘n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.
[9]  (12:10) Maar Ek is die HERE jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees.
[10]  (12:11) Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.
[11]  (12:12) Was Gílead goddeloosheid hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye.
[12]  (12:13) En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir ‘n vrou as loon, en vir ‘n vrou het hy vee opgepas.
[13]  (12:14) Maar deur ‘n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur ‘n profeet is hulle opgepas.
[14]  (12:15) Efraim het die HERE bitterlik geterg; daarom sal Hy sy bloedskulde op hom laat neerkom, ja, sy Here sal hom vir die aangedane smaad vergelde.

Hoséa 13:1-16
[1]  As Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe.
[2]  En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle ‘n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!
[3]  Daarom sal hulle wees soos ‘n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.
[4]  Tog was Ek, die HERE, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.
[5]  Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.
[6]  Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.
[7]  Toe het Ek vir hulle soos ‘n leeu geword, soos ‘n luiperd lê Ek by die pad en loer.
[8]  Ek val hulle aan soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos ‘n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.
[9]  Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.
[10]  Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos in al jou stede, en jou regters van wie jy gesê het: Gee my ‘n koning en vorste?
[11]  Ek gee jou ‘n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid.
[12]  Saamgebind is die ongeregtigheid van Efraim, weggebêre is sy sonde.
[13]  Barensweë sal hom oorval, hy is ‘n onverstandige kind; want as die tyd daar is, stel hy hom nie in die kindergeboorte nie.
[14]  Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge.
[15]  Wanneer hy vrug dra onder die broers, kom ‘n oostewind, ‘n wind van die HERE, wat uit die woestyn opkom; dan droog sy fontein op en sy bron dor uit. Dié sal ‘n skat van allerhande kosbare voorwerpe roof.
[16]  (14:1) Samaría sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.

Hoséa 14:1-9
[1]  (14:2) Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.
[2]  (14:3) Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.
[3]  (14:4) Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.
[4]  (14:5) Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.
[5]  (14:6) Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.
[6]  (14:7) Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.
[7]  (14:8) Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.
[8]  (14:9) Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.
[9]  (14:10) Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!