2015-06-29

Sange

Psalms 107:1-43
[1]  Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
[2]  Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
[3]  en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
[4]  Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
[5]  Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
[6]  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
[7]  En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon.
[8]  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
[9]  want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
[10]  Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters—
[11]  omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
[12]  het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
[13]  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
[14]  Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
[15]  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
[16]  want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
[17]  Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is—
[18]  hulle siel het ‘n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
[19]  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
[20]  Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
[21]  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
[22]  en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
[23]  Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters—
[24]  húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
[25]  Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
[26]  Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes—hulle siel het vergaan van wee.
[27]  Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
[28]  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
[29]  Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
[30]  Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
[31]  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
[32]  En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
[33]  Hy het riviere ‘n woestyn gemaak en waterfonteine ‘n dorsland,
[34]  vrugbare land ‘n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
[35]  Hy het die woestyn ‘n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
[36]  en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ‘n stad gestig om in te woon.
[37]  En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
[38]  En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
[39]  Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer—
[40]  Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in ‘n woeste wêreld, sonder pad—
[41]  Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
[42]  Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
[43]  Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.