2015-04-22

Noen: EK IS WAT EK IS, Ek Verander Nie - JHWH-Jireh Se Getrouheid

Eségiël 7:1-27
[1]  Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
[2]  En jy, mensekind, so spreek die Here HERE tot die land van Israel: Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land.
[3]  Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom;
[4]  en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
[5]  So sê die Here HERE: Onheil op onheil, kyk, dit kom!
[6]  ‘n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom!
[7]  Die lotsverandering kom teen jou, inwoner van die land! Die tyd kom, die dag is naby! Rumoer en geen vreugdegeroep op die berge nie!
[8]  Nou sal Ek binnekort my grimmigheid oor jou uitgiet en my toorn teen jou laat uitwoed en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom.
[9]  En my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal dit op jou laat neerkom volgens jou weë, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is wat slaan.
[10]  Kyk, die dag, kyk, hy kom! Die lotsverandering het uitgegaan, die roede het gebloei, die trotsheid het uitgespruit.
[11]  Die geweld het opgegroei tot ‘n roede van goddeloosheid; niks van hulle sal oorbly nie of van hulle menigte of van hulle gedruis, en niks heerliks sal aan hulle wees nie.
[12]  Die tyd het gekom, die dag is naby; laat die koper nie bly wees nie en die verkoper nie treur nie; want toorngloed is daar oor die hele menigte van die land.
[13]  Want die verkoper sal nie teruggaan na wat verkoop is nie—ook as hy nog in die lewe is; want die gesig aangaande die hele menigte van die land sal nie herroep word nie, en niemand sal homself deur sy ongeregtigheid in sy lewenskrag versterk nie.
[14]  Hulle blaas met die trompet en maak alles klaar, maar niemand trek na die oorlog toe nie; want my toorngloed is oor die hele menigte van die land.
[15]  Die swaard buite, en die pes en die hongersnood binne; hy wat in die veld is, sal deur die swaard sterwe; en hy wat in die stad is, hom sal die hongersnood en die pes verteer.
[16]  En die wat uit hulle ontvlug, sal ontvlug; maar hulle sal op die berge wees soos duiwe van die klowe wat almal klaag, elkeen vanweë sy ongeregtigheid.
[17]  Almal se hande sal slap word, en almal se knieë sal wegvloei soos water.
[18]  Ook sal hulle rouklere aangord, en angs sal hulle oordek; en oor al die aangesigte sal skaamte wees en op al hulle hoofde ‘n kaalte.
[19]  Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid.
[20]  En die pragtige sieraad daarvan het hulle as voorwerp van trots opgestel, en die beelde van hul gruwels, hul verfoeisels het hulle daarmee gemaak; daarom het Ek dit vir hulle tot ‘n voorwerp van afsku gemaak.
[21]  En Ek sal dit in die hand van vreemdes oorgee as roof en aan die goddelose van die aarde as buit, dat hulle dit ontheilig.
[22]  Ook sal Ek my aangesig van hulle afwend, en hulle sal my skat ontheilig: inbrekers sal daar inkom en dit ontheilig.
[23]  Maak ‘n ketting klaar, want die land is vol bloedgerigte en die stad is vol geweld.
[24]  Daarom sal Ek die kwaadaardigste nasies laat kom, wat hulle huise in besit sal neem, en Ek sal die trots van die sterkes laat ophou, en hulle heiligdomme sal ontheilig word.
[25]  Die angs kom; en hulle soek vrede, maar dit is nie daar nie.
[26]  Onheil op onheil kom, en gerug op gerug is daar; en hulle sal ‘n gesig verlang van die profeet, maar die wet sal verlore wees vir die priester en die raad vir die oudstes.
[27]  Die koning sal rou, en die vors sal hom beklee met verbasing, en die hande van die mense van die land sal deur skrik verlam wees. Ek sal met hulle handel volgens hulle weg, en volgens hulle verordeninge sal Ek hulle vonnis; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.


Eségiël 14:1-23
[1]  Daarop het manne uit die oudstes van Israel na my gekom en voor my gaan sit.
[2]  Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
[3]  Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit—sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?
[4]  Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom—Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee;
[5]  sodat Ek die huis van Israel in hulle hart kan gryp, omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het.
[6]  Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels.
[7]  Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee.
[8]  Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
[9]  En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.
[10]  En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees;
[11]  sodat die huis van Israel nie meer agter My wegdwaal nie en hulle nie meer verontreinig met al hul oortredinge nie. Dan sal hulle vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, spreek die HERE.
[12]  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
[13]  Mensekind, as ‘n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek en die staf van die brood daarvan verbreek en ‘n hongersnood daarin stuur, en Ek daaruit mens en dier uitroei—
[14]  al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE.
[15]  As Ek wilde diere in die land laat rondswerf, dat hulle dit kinderloos maak en dit ‘n wildernis word, sodat niemand daar deurgaan vanweë die wilde diere nie—
[16]  al was hierdie drie manne daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seuns of dogters red nie; net hulle sou gered word, maar die land sou ‘n wildernis wees.
[17]  Of as Ek die swaard bring oor daardie land en sê: Laat die swaard deur die land trek! en Ek daaruit mens en dier uitroei—
[18]  al was hierdie drie manne daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seuns of dogters red nie, maar net hulle sou gered word.
[19]  Of as Ek pes in daardie land stuur en my grimmigheid daaroor uitgiet in bloed, om daaruit mens en dier uit te roei—
[20]  al was Noag, Daniël en Job daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red.
[21]  Want so sê die Here HERE: Hoeveel te meer as Ek my vier kwaai gerigte, swaard en hongersnood en wilde diere en pes, op Jerusalem afstuur om daaruit mens en dier uit te roei!
[22]  Maar kyk, daarin sal oorbly wat ontvlug, wat uitgebring word, seuns en dogters; kyk, hulle kom uit na julle toe, dat julle hulle weg en hulle handelinge kan sien, en julle getroos kan word oor die onheil wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek daaroor gebring het.
[23]  Ja hulle sal julle troos as julle hulle weg en hulle handelinge sien; en julle sal weet dat Ek nie tevergeefs alles gedoen het wat Ek daarin gedoen het nie, spreek die Here HERE.

Johannes 17:1-26
[1]  Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik—
[2]  soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.
[3]  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.
[4]  Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.
[5]  En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.
[6]  Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.
[7]  Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom.
[8]  Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
[9]  Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.
[10]  En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik.
[11]  En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.
[12]  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.
[13]  Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.
[14]  Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
[15]  Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.
[16]  Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
[17]  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
[18]  Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.
[19]  En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.
[20]  Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—
[21]  dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
[22]  En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.
[23]  Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.
[24]  Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
[25]  Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het.
[26]  En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.