Jeremia 12:1-17
[1] Regverdig is U, o HERE, as ek met U sou twis.
Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose
voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
[2]
U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra
hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
[3]
Maar U, o HERE, ken my; U sien my en toets my hart by U. Ruk hulle weg
soos slagskape, en heilig hulle vir die dag van slagting.
[4] Hoe
lank sal die land treur en die plante van die hele veld verdor? Vanweë
die boosheid van die wat daarin woon, vergaan diere en voëls; omdat
hulle sê: Hy sal ons einde nie sien nie!
[5] As jy met voetgangers
loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in
‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die
pronkbosse van die Jordaan?
[6] Want ook jou broers en die huis van
jou vader, ook hulle het troueloos teen jou gehandel; ook hulle roep jou
hardop agterna. Glo hulle nie as hulle vriendelik met jou spreek nie.
[7] Ek het my huis verlaat, Ek het my erfenis verwerp, Ek het die beminde van my siel in die hand van haar vyande gegee.
[8] My erfenis het vir My geword soos ‘n leeu in die bos; dit het sy stem teen My verhef; daarom het Ek dit gehaat.
[9]
Is my erfenis dan vir My ‘n bont roofvoël? Is daar roofvoëls rondom
teen hom? Kom, maak al die wilde diere van die veld bymekaar, laat hulle
kom om te eet.
[10] Baie herders het my wingerd verniel, hulle het
my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land ‘n woeste
wildernis gemaak,
[11] hulle het dit ‘n wildernis gemaak; dit treur
voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat
dit ter harte neem nie.
[12] Op al die kaal heuwels in die woestyn
het verwoesters gekom, want die swaard van die HERE verteer van die een
end van die land tot die ander end van die land; daar is geen vrede vir
enige vlees nie.
[13] Hulle het koring gesaai, maar dorings gemaai;
hulle het hul uitgeput sonder om baat te vind. Staan dan beskaamd oor
julle inkomste, vanweë die toorngloed van die HERE.
[14] So sê die
HERE: Aangaande al my goddelose bure wat die erfenis aantas wat Ek my
volk Israel laat erf het—kyk, Ek ruk hulle uit hul land uit, en die huis
van Juda sal Ek uit hulle midde wegruk.
[15] Maar nadat Ek hulle
uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm; en Ek sal hulle
terugbring, elkeen na sy erfenis en elkeen na sy land.
[16] En as
hulle ywerig die weë van my volk leer om te sweer by my Naam: So waar as
die HERE leef, soos hulle my volk geleer het om te sweer by Baäl—dan
sal hulle onder my volk gebou word.
[17] Maar as hulle nie luister nie, dan sal Ek dié nasie heeltemal uitruk en tot niet maak, spreek die HERE.