2015-01-26

Alef


Hier volg die eerste inskrywing van die Here
in die Boek van die Oorloë van YHWH-Jireh
Ek steek die velde aan die brand
die bees, die blomme, en ook die sand
Ek waai 'n wind van verwoesting aan
oor die vlaktes, berge en oseaan
Lande sal bewe in smart en roet
en mense sal swewe in angs en groet


Jesaja 25:1-12
[1]  HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.
[2]  Want U het van ‘n stad ‘n hoop klippe gemaak, van ‘n versterkte vesting ‘n puinhoop; ‘n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie.
[3]  Daarom sal ‘n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees.
[4]  Want U was ‘n vesting vir die arme, ‘n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; ‘n skuilplek teen die stortreën, ‘n skaduwee teen die hitte—want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur.
[5]  Soos hitte in ‘n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van ‘n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.
[6]  En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.
[7]  En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.
[8]  Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.
[9]  En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.
[10]  Want die hand van die HERE sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van ‘n miskuil.
[11]  En as hy sy hande daarin uitsprei soos ‘n swemmer dit uitsprei om te swem, dan sal Hy sy trotsheid afdruk tegelyk met die kunsgrepe van sy hande.
[12]  En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom tot op die grond, tot in die stof.


Jeremia 25:1-38
[1]  Die woord wat tot Jeremia gekom het aangaande die hele volk van Juda, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda—dit was die eerste jaar van Nebukadrésar, die koning van Babel—
[2]  waarmee die profeet Jeremia die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem toegespreek en gesê het:
[3]  Vanaf die dertiende jaar van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, tot op hierdie dag—nou drie en twintig jaar lank—het die woord van die HERE tot my gekom; en ek het julle toegespreek, vroeg en laat, maar julle het nie geluister nie.
[4]  Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat—maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie—
[5]  met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu;
[6]  en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie.
[7]  Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE—om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade.
[8]  Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie,
[9]  laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.
[10]  En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.
[11]  En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.
[12]  En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.
[13]  En Ek sal oor dié land bring al my woorde wat Ek daaroor gespreek het—alles wat geskrywe is in hierdie boek, wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies.
[14]  Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande.
[15]  Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,
[16]  dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.
[17]  En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het;
[18]  naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak ‘n puinhoop, ‘n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is;
[19]  Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk;
[20]  en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Askelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;
[21]  Edom en Moab en die kinders van Ammon;
[22]  en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is;
[23]  Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer;
[24]  en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;
[25]  en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Médië;
[26]  en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.
[27]  En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur.
[28]  En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Drink sál julle!
[29]  Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile—en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die HERE van die leërskare.
[30]  Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die HERE sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ‘n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.
[31]  Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die HERE het ‘n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE.
[32]  So sê die HERE van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ‘n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
[33]  En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.
[34]  Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ‘n kosbare voorwerp.
[35]  Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.
[36]  Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die HERE hulle kudde verwoes.
[37]  En die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die HERE.
[38]  Hy het soos ‘n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het ‘n woesteny geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.


Eségiël 25:1-17
[1]  En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
[2]  Mensekind, rig jou aangesig teen die kinders van Ammon, en profeteer teen hulle.
[3]  En sê aan die kinders van Ammon: Hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE: Omdat jy ha, ha! geroep het oor my heiligdom, omdat dit ontheilig is, en oor die land van Israel, omdat dit verwoes is, en oor die huis van Juda, omdat hulle in ballingskap gegaan het—
[4]  daarom, kyk, Ek gee jou oor aan die kinders van die Ooste as ‘n besitting, dat hulle hul laers in jou opslaan en hul wonings in jou maak; hulle sal jou vrugte eet, en hulle sal jou melk drink.
[5]  En Ek sal Rabba ‘n weiveld maak vir kamele en die kinders van Ammon ‘n lêplek vir kleinvee, en julle sal weet dat Ek die HERE is.
[6]  Want so sê die Here HERE: Omdat jy in die hand geklap en met die voet gestamp het en bly was met volle veragting in die siel oor die land van Israel—
[7]  daarom, kyk, Ek strek my hand teen jou uit en gee jou as buit vir die nasies, en Ek sal jou uitroei uit die volke en jou uit die lande verdelg; Ek sal jou vernietig, en jy sal weet dat Ek die HERE is.
[8]  So spreek die Here HERE: Omdat Moab en Seïr sê: Kyk, die huis van Juda is soos al die nasies—
[9]  daarom, kyk, Ek maak die berghange van Moab oop, dat dit sonder stede is, sonder sy stede in sy hele gebied, die sieraad van die land: Bet-Jésimot, Baäl-Meon en tot Kirjatáim toe;
[10]  aan die kinders van die Ooste sal Ek dit, saam met die kinders van Ammon, as besitting gee, sodat die kinders van Ammon nie meer genoem sal word onder die nasies nie.
[11]  Ek sal ook in Moab strafgerigte voltrek; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
[12]  So sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het—
[13]  daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ‘n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.
[14]  En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here HERE.
[15]  So sê die Here HERE: Omdat die Filistyne wraaksugtig gehandel het en hulle erg gewreek het met veragting in die siel, om te verwoes met ewige vyandskap—
[16]  daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek strek my hand uit teen die Filistyne en sal die Kretiërs uitroei en die oorblyfsel van die seekus vernietig.
[17]  En Ek sal gedugte wraak aan hulle oefen met grimmige strawwe; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek my wraak oor hulle bring.