2015-08-02

Psalms 115

Psalms 115:1-18
[1]  Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.
[2]  Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?
[3]  terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.
[4]  Hulle afgode is silwer en goud, ‘n werk van mensehande.
[5]  Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie;
[6]  ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ‘n neus, maar ruik nie;
[7]  hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie.
[8]  Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.
[9]  Israel, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
[10]  Huis van Aäron, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
[11]  Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild.
[12]  Die HERE het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Israel seën, Hy sal die huis van Aäron seën.
[13]  Hy sal diegene seën wat die HERE vrees, die kleintjies saam met die grotes.
[14]  Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders.
[15]  Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
[16]  Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.
[17]  Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie;
[18]  maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja!