2015-07-14

Eerbiedigheid: Hy Wag - JHWH Se Ontferming


Waar is eerbiedigheid in vandag se lewe?  Bestaan dit nog?  Of is dit 'n verlate boek wat onder die stof verdwyn het?  As ons weet waar ons Hulp vandaan kom, hoekom weet ons dan so weinig van die werkwoord, wat "eerbied" genoem word?

Ons lees in Hebreërs 12:28
"Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees."

En op 'n ander plek lees ons weer, 1 Timótheüs 5:4
"Maar as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God."

In ons huidige sfeer, het ons hierdie gawe verloor.  Tydens ons goeie jare, het ons van die pad af gedwaal, opsoek na die wêreld se tradisies.  Ons het ons rug op God  en op ons naaste gekeer en gesmag na verheerliking tussen die vreemdes.

Ons was nie tevrede met die oorvloed in geregtigheid, wat Hy na ons kuste gebring het nie.  Ons wou meer hê, meer versamel en meer dronk raak van die onbesnedenes van hart.  Ons wou net soos die res wees.  Ons het ons Maker verlaat vir 'n vreemde man en vrou, want ons het verveeld geraak met Sy toegewyde liefde, opregtheid, regverdigheid en toesig.  Ons wou 'n ander koning hê.  Een wat ons kan aanraak en sien in die vlees, want die Geestelike verhouding het toe alreeds begin te verdor, vanweë ons begeertes vir die vleeslike en tydelike plesier.

En ons is vandag weer in die woestyn.  Ons voel verlate.  Ons is slawe van ons eie keuses.  Ons staan naak gestroop van alles en ons kuste het verdor, want daar is geen genesing vir ons nie.  Ons minnaars het ons verkoop aan andere, nadat hulle ons misbruik, mishandel en leeg gestroop het.  Ons word nou verneder en toegesnou.  Ons word gespot en verstoot.  Ons het weduwees en wewenaars geword en ons kinders het ouerloos geraak.

Maar ondanks ons rondlopery.  Ondanks ons afvalligheid en ons afgodery, wag Hy nog steeds op ons.  Hy hou die deur oop.  Hy maak die tafel gereed en die beker word vol geskink.  Hy is besig met 'n voorbereiding, om 'n heildronk te maak, en om weereens 'n verlore volk terug te verwelkom.

Hy wag...

Psalms 113:1-9
[1]  Halleluja! Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE!
[2]  Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid!
[3]  Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!
[4]  Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.
[5]  Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon,
[6]  wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?
[7]  Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef;
[8]  om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk.
[9]  Wat die onvrugbare van die huis laat woon—’n blye moeder van kinders. Halleluja!