2015-05-24

Pe'e: Strafgerig Oor 'n Nasie

Sagaria 11:1-17
[1]  Open jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer!
[2]  Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is.
[3]  Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor! die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes.
[4]  So sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape—
[5]  hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie.
[6]  Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie.
[7]  En ek het die slagskape—waarlik ellendige skape! —opgepas; en ek het vir my twee stawe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas.
[8]  En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het.
[9]  Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie—wat sterwend is, laat sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar se vleis verslind!
[10]  Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek.
[11]  En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat op my ag gegee het, bemerk dat dit ‘n woord van die HERE was.
[12]  Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer.
[13]  Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker—die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.
[14]  Toe het ek my tweede staf, Samebinding, verbreek, om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.
[15]  Daarop sê die HERE vir my: Neem weer vir jou die gereedskap van ‘n herder, van ‘n dwase.
[16]  Want kyk, Ek sal ‘n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie; en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk.
[17]  Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!

Klaagliedere 3:1-66
[1]  Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
[2]  My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
[3]  Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
[4]  Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
[5]  Hy het my met ‘n bouwerk omsingel van gif en moeite.
[6]  Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
[7]  Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
[8]  Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
[9]  Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
[10]  Dalet. Hy is ‘n beer wat my voorlê, ‘n leeu in skuilplekke.
[11]  Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot ‘n woesteny gemaak.
[12]  Hy het sy boog gespan en my as ‘n teiken vir die pyl opgestel.
[13]  He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
[14]  Ek het ‘n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
[15]  Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
[16]  Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
[17]  En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
[18]  Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.
[19]  Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
[20]  As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
[21]  Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
[22]  Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;
[23]  hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
[24]  Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
[25]  Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
[26]  Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
[27]  Dit is goed vir ‘n man dat hy die juk in sy jeug dra.
[28]  Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
[29]  Laat hy sy mond in die stof steek—miskien is daar hoop!
[30]  Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
[31]  Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
[32]  Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;
[33]  want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
[34]  Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
[35]  dat hulle die reg van ‘n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
[36]  dat hulle ‘n mens onregverdig behandel in sy regsaak—het die HERE dit nie gesien nie?
[37]  Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
[38]  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
[39]  Wat klaag ‘n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
[40]  Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;
[41]  laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
[42]  Ons het oortree en ons was wederstrewig—U het nie vergewe nie.
[43]  Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.
[44]  U het Uself in ‘n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
[45]  U het ons ‘n uitvaagsel en ‘n wegwerpsel onder die volke gemaak.
[46]  Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
[47]  skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
[48]  My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
[49]  Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
[50]  totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.
[51]  My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
[52]  Sade. Hulle het my soos ‘n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;
[53]  hulle het my lewe in ‘n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
[54]  Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
[55]  Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.
[56]  U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
[57]  U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
[58]  Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
[59]  U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.
[60]  U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
[61]  Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,
[62]  die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
[63]  Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
[64]  Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.
[65]  U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
[66]  U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.

Matthéüs 12:1-50
[1]  In daardie tyd het JaHWèshua op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet.
[2]  Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie.
[3]  Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het—
[4]  hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?
[5]  Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?
[6]  En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier.
[7]  Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie;
[8]  want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
[9]  En Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom.
[10]  En daar was ‘n man met ‘n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? —sodat hulle Hom sou kan aanklae.
[11]  Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?
[12]  Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.
[13]  Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.
[14]  Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.
[15]  Toe JaHWèshua dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak,
[16]  en hulle ‘n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie,
[17]  sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet:
[18]  Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig.
[19]  Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.
[20]  ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.
[21]  En op sy Naam sal die heidene hoop.
[22]  Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.
[23]  En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?
[24]  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.
[25]  Maar JaHWèshua het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.
[26]  En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?
[27]  En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
[28]  Maar as Ek deur die Gees van Elohym die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van Elohym by julle gekom.
[29]  Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.
[30]  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
[31]  Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
[32]  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.
[33]  Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.
[34]  Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
[35]  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.
[36]  Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
[37]  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
[38]  Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien.
[39]  Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
[40]  Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
[41]  Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!
[42]  Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en—meer as Salomo is hier!
[43]  En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.
[44]  Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.
[45]  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.
[46]  En terwyl Hy nog met die skare spreek, staan sy moeder en broers daarbuite en wou graag met Hom praat.
[47]  Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat.
[48]  Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers?
[49]  En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers.
[50]  Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.