2015-02-08

Hee [Deel 1]

Jeremia 34:1-22
[1]  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het—toe Nebukadnésar, die koning van Babel, en sy hele leër en al die koninkryke van die land van sy heerskappy en al die volke teen Jerusalem en al die stede daarvan oorlog gevoer het—
[2]  so sê die HERE, die God van Israel: Gaan en spreek met Sedekía, die koning van Juda, en sê vir hom: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.
[3]  En jy sal uit sy hand nie ontvlug nie, maar sekerlik gevang en in sy hand gegee word; en oog in oog sal jy die koning van Babel sien, en mond tot mond sal hy met jou spreek; en jy sal in Babel kom.
[4]  Maar luister na die woord van die HERE, o Sedekía, koning van Juda! So sê die HERE aangaande jou: Jy sal deur die swaard nie sterwe nie.
[5]  Jy sal in vrede sterwe, en net so ‘n wierookbrand as vir jou vaders, die vorige konings wat voor jou gewees het, sal hulle vir jou aansteek en jou beklaag met: Ag, heer! Want Ék het die woord gespreek, spreek die HERE.
[6]  En die profeet Jeremia het al hierdie woorde aan Sedekía, die koning van Juda, in Jerusalem meegedeel,
[7]  terwyl die leër van die koning van Babel oorlog voer teen Jerusalem en teen al die stede van Juda wat oorgebly het, teen Lagis en teen Aséka; want hulle het as versterkte stede oorgebly onder die stede van Juda.

[8]  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het nadat koning Sedekía ‘n verbond gesluit het met die hele volk wat in Jerusalem was, om vir hulle ‘n vrylating uit te roep,
[9]  dat elkeen sy slaaf en sy slavin, ‘n Hebreeuse man of Hebreeuse vrou, vry moet laat weggaan, sodat niemand ‘n Jood, sy broer, vir hom diensbaar sou maak nie.
[10]  En al die vorste en die hele volk wat die verbond aangegaan het, het gehoor gegee dat elkeen sy slaaf en sy slavin vry sou laat weggaan, sodat dié nie meer aan hulle diensbaar sou wees nie; ja, hulle het gehoor gegee en hulle laat weggaan.
[11]  Maar daarna het hulle weer die slawe en slavinne laat terugkom wat hulle vry laat weggaan het, en hulle het dié as slawe en slavinne onderdanig gemaak.
[12]  Toe het van die HERE die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
[13]  So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het ‘n verbond gesluit met julle vaders op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het, met die woorde:
[14]  Aan die einde van sewe jaar moet julle elkeen sy broer, die Hebreër wat aan jou verkoop is en jou ses jaar lank gedien het, laat weggaan; jy moet hom as vryman van jou af laat weggaan. Maar julle vaders het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie.
[15]  En júlle het vandag tot inkeer gekom en gedoen wat reg is in my oë, om ‘n vrylating uit te roep, elkeen vir sy naaste; en julle het ‘n verbond gesluit voor my aangesig, in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.
[16]  Maar julle het weer gedraai en my Naam ontheilig, en elkeen het sy slaaf en sy slavin wat julle vry laat weggaan het volgens hulle begeerte, laat terugkom; en julle het hulle onderdanig gemaak om julle slawe en slavinne te wees.
[17]  Daarom, so sê die HERE: Júlle het na My nie geluister om ‘n vrylating uit te roep elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie; kyk, Ek roep ‘n vrylating uit, spreek die HERE, om julle oor te gee aan die swaard, die pes en die hongersnood, en Ek sal julle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde.
[18]  En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het:
[19]  die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.
[20]  En Ek sal hulle gee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
[21]  En Sedekía, die koning van Juda, en sy vorste sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek, naamlik aan die leër van die koning van Babel wat van julle af opgetrek het.
[22]  Kyk, Ek gee bevel, spreek die HERE, en sal hulle na hierdie stad terugbring; en hulle sal daarteen oorlog voer en dit inneem en met vuur verbrand; en Ek sal die stede van Juda ‘n wildernis maak, sonder inwoner.

Eségiël 34:1-31
[1]  En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
[2]  Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?
[3]  Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie;
[4]  julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.
[5]  So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak.
[6]  My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.
[7]  Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE:
[8]  So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie—
[9]  daarom, o herders, hoor die woord van die HERE!
[10]  So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.
[11]  Want so sê die Here HERE: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.
[12]  Soos ‘n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.
[13]  En Ek sal hulle uitlei uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land; en Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, in die klowe en in al die bewoonbare plekke van die land.
[14]  Op ‘n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op ‘n goeie plek en wei in ‘n geil weiveld op die berge van Israel.
[15]  Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE.
[16]  Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.
[17]  En wat julle aangaan, my skape, so sê die Here HERE, kyk, Ek sal oordeel tussen skape en skape, die ramme en die bokramme.
[18]  Is dit vir julle nie genoeg dat julle die goeie weiveld afwei nie? En moet julle die orige van jul weiveld met jul pote vertrap? En moet julle die helder water drink, terwyl julle die wat oorbly, met jul pote troebel maak?
[19]  En moet my skape afwei wat met julle pote vertrap is, en drink wat met julle pote troebel gemaak is?
[20]  Daarom, so sê die Here HERE vir hulle: Kyk, hier is Ek, en Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape.
[21]  Omdat julle al die swakkes met skof en skouer wegdruk en met julle horings stoot, totdat julle hulle uitgejaag het,
[22]  daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer ‘n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape.
[23]  En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees.
[24]  En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde. Ek, die HERE, het dit gespreek.
[25]  En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.
[26]  En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot ‘n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.
[27]  En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.
[28]  En hulle sal nie meer ‘n prooi vir die nasies wees nie, en die wilde diere van die land sal hulle nie opeet nie; maar hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.
[29]  En Ek sal vir hulle plante van naam verwek, sodat hulle nie meer deur hongersnood in die land weggeruk sal word nie en die smaad van die nasies nie meer sal dra nie.
[30]  Maar hulle sal weet dat Ek, die HERE hulle God, met hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here HERE.
[31]  En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.

Psalms 7:1-17
[1]  HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my;
[2]  sodat hy nie soos ‘n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.
[3]  HERE, my God, as ek dit gedoen het, as daar onreg in my hande is,
[4]  as ek hóm kwaad aangedoen het wat in vrede met my geleef het (ja, ek het hom gered wat my sonder oorsaak vyandig was),
[5]  mag die vyand my dan vervolg en inhaal en my lewe teen die grond vertrap en my eer in die stof laat woon. Sela.
[6]  Staan op, HERE, in u toorn, verhef U teen die grimmigheid van my teëstanders en ontwaak vir my, U wat die reg beveel het!
[7]  En laat die vergadering van die volke U omring; keer dan bo hulle terug in die hoogte!
[8]  Die HERE oordeel die volke. Doen aan my reg, HERE, na my geregtigheid en na my onskuld wat by my is.
[9]  Laat tog die boosheid van die goddelose mense ‘n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!
[10]  My skild is by God wat die opregtes van hart verlos.
[11]  God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is.
[12]  As hy hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp; Hy span sy boog en mik daarmee
[13]  en berei vir hom dodelike werktuie; Hy maak sy pyle brandende wapens.
[14]  Kyk, hy is in barensweë van onreg en is swanger van moeite; hy baar leuens.
[15]  Hy het ‘n kuil gegrawe en dit uitgehol; maar hy het geval in die vangkuil wat hy gemaak het.
[16]  Die onheil wat hy gestig het, keer op sy hoof terug, en sy geweld kom op sy skedel neer.
[17]  Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing.