2015-02-05

Giemel

Jeremia 13:1-27
[1]  So het die HERE vir my gesê: Gaan koop vir jou ‘n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie.
[2]  En ek het die gord gekoop volgens die woord van die HERE en dit om my heupe gebind.
[3]  Toe het die woord van die HERE vir die tweede keer tot my gekom en gesê:
[4]  Neem die gord wat jy gekoop het, wat om jou heupe is, en maak klaar, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ‘n klipskeur.
[5]  Daarop het ek gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos die HERE my beveel het.
[6]  En ná verloop van baie dae het die HERE vir my gesê: Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.
[7]  Daarop het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gord geneem van die plek af waar ek dit weggesteek het; en kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos.

[8]  Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
[9]  So spreek die HERE: So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is.
[10]  Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig—hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.
[11]  Want soos die gord kleef aan die heupe van ‘n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die HERE, om vir My te wees ‘n volk en ‘n roem en ‘n lof en ‘n sieraad; maar hulle het nie geluister nie.
[12]  Sê verder aan hulle hierdie woord: So spreek die HERE, die God van Israel: Elke kan word vol wyn gemaak. Dan sal hulle vir jou sê: Weet ons dit dan nie dat elke kan vol wyn gemaak word nie?
[13]  Maar jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem.
[14]  En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander, die vaders en die kinders almal saam, spreek die HERE. Ek sal nie spaar of verskoon of My ontferm nie, dat Ek hulle nie sou verdelg nie.
[15]  Luister en merk op; verhef julle nie, want die HERE het gespreek!
[16]  Gee eer aan die HERE julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander.
[17]  Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die HERE as gevangenes weggevoer is.
[18]  Sê aan die koning en aan die gebiedster: Gaan baie laag sit, want julle hoofsieraad, julle sierlike kroon, het geval.
[19]  Die stede van die Suidland is toegesluit, en niemand maak oop nie; Juda is in ballingskap weggevoer gans en al, weggevoer volkome!
[20]  Hef jou oë op, en aanskou die wat uit die noorde kom. Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?
[21]  Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees? Sal weë jou nie aangryp soos van ‘n barende vrou nie?
[22]  As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld.
[23]  Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.
[24]  Daarom sal Ek hulle verstrooi soos ‘n stoppel wat verbyvlieg voor die wind van die woestyn.
[25]  Dit is jou lot, die deel wat Ek jou toegemeet het, spreek die HERE, omdat jy My vergeet en op leuens vertrou het.
[26]  So het Ek dan ook jou slippe opgetel oor jou aangesig, sodat jou skande gesien word.
[27]  Jou owerspel en jou gerunnik, jou skandelike hoerery—op die heuwels in die veld het Ek jou verfoeisels gesien. Wee jou, Jerusalem! Hoe lank sal dit nog duur voordat jy rein word?

Eségiël 17:1-24
[1]  En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
[2]  Mensekind, gee ‘n raaisel op aan die huis van Israel en dra ‘n gelykenis voor
[3]  en sê: So spreek die Here HERE: Die groot arend met groot vleuels, met lang vlerke, vol vere wat veelkleurig was, het na die Líbanon gekom en die top van die seder weggeneem.
[4]  Hy het die boonste van sy jong takkies afgepluk en dit na die koopmansland gebring; hy het dit neergesit in die stad van koopmans.
[5]  Hy het ook van die saad van die land geneem en dit in ‘n saailand geplant; hy het dit na baie waters weggeneem, dit as oewergewas geplant.
[6]  En dit het uitgespruit en ‘n breë wingerdstok geword, laag van groei, sodat sy ranke na die arend kon draai en sy wortels onder hóm kon wees. So het dit dan ‘n wingerdstok geword, en dit het lote gemaak en lootjies uitgeskiet.
[7]  En daar was nog ‘n groot arend met groot vleuels en baie vere; en kyk, hierdie wingerdstok het sy wortels na hóm toe gebuig en sy ranke na hom toe uitgeskiet uit die beddings waar dit geplant was, dat hy dit sou bevogtig.
[8]  Dit was in ‘n goeie land by baie waters geplant om ranke te maak en vrugte te dra, om ‘n pragtige wingerdstok te word.
[9]  Sê: So spreek die Here HERE: Sal dit voorspoedig wees? Sal hy nie die wortels daarvan uitruk en die vrugte daarvan afsny, sodat dit verdroog, ja, verdroog in al sy uitgespruite blaartjies nie? En dit nie deur ‘n magtige arm en baie mense om dit van sy wortels af uit te lig nie.
[10]  Ja, kyk, dit is geplant—sal dit voorspoedig wees? Sal dit nie heeltemal verdroog as die oostewind hom aanraak, verdroog op die beddings waar dit uitgespruit het nie?
[11]  Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
[12]  Spreek tog met die wederstrewige huis: Weet julle nie wat hierdie dinge beteken nie? Sê: Kyk, die koning van Babel het na Jerusalem gekom en sy koning en sy vorste weggeneem en hulle na hom toe, na Babel gebring.
[13]  Toe het hy een uit die koninklike geslag geneem en met hom ‘n verbond gesluit en hom ‘n eed opgelê, maar die magtiges van die land het hy weggeneem;
[14]  sodat die koninkryk van geringe betekenis sou wees en hom nie sou verhef nie, maar dat dit, deur sy verbond te onderhou, in stand kon bly.
[15]  Maar hy het teen hom in opstand gekom deur sy gesante na Egipte te stuur, dat hulle hom perde en baie manskappe sou gee. Sal hy voorspoedig wees? Sal hy ontvlug wat sulke dinge doen? Sal hy die verbond verbreek en tog ontvlug?
[16]  So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, in die plek waar die koning woon wat hom koning gemaak het, wie se eed hy geminag en wie se verbond hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterwe.
[17]  Ook sal Farao nie met hom saamspan in die oorlog met ‘n groot leër en met baie mense nie, as hulle ‘n wal opwerp en forte bou om baie siele uit te roei.
[18]  Want hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug nie.
[19]  Daarom, so sê die Here HERE: So waar as Ek leef, Ek sal gewis my eed wat hy geminag het, en my verbond wat hy verbreek het, op sy hoof laat neerkom.
[20]  En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel bring en daar met hom na die gereg gaan, weens die troubreuk wat hy teen My begaan het.
[21]  En al sy vlugtelinge in al sy leërs sal deur die swaard val, en die wat oorgebly het, sal na al die windstreke verstrooi word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek het.
[22]  So sê die Here HERE: Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder ‘n steggie neem en dit insit—van die boonste van sy lootjies sal Ek ‘n teer puntjie afpluk en self dit plant op ‘n hoë en verhewe berg.
[23]  Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal takke voortbring en vrugte dra en ‘n heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon.
[24]  En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen.

Psalms 15:1-5
[1]  HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
[2]  Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;
[3]  wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;
[4]  in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;
[5]  wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.