2015-03-03

Hee [Deel 2]


Psalms 76:1-12
[1]  Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Asaf. ‘n Lied. (76:2) God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel.
[2]  (76:3) Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.
[3]  (76:4) Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela.
[4]  (76:5) Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
[5]  (76:6) Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie.
[6]  (76:7) Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
[7]  (76:8) U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?
[8]  (76:9) Uit die hemel het U ‘n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword,
[9]  (76:10) toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela.
[10]  (76:11) Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
[11]  (76:12) Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike,
[12]  (76:13) wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde.

2 Konings 21:9-25
[9]  Maar hulle het nie geluister nie; en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.
[10]  Toe het die HERE deur die diens van sy knegte, die profete, gespreek en gesê:
[11]  Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie gruwels gedoen het—erger as alles wat die Amoriete gedoen het wat voor hom was, en selfs Juda laat sondig het deur sy drekgode—
[12]  daarom, so sê die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek sal ‘n onheil oor Jerusalem en Juda bring, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.
[13]  En Ek sal oor Jerusalem die meetsnoer van Samaría span en die skietlood van die huis van Agab, en Jerusalem wegvee soos ‘n mens ‘n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo.
[14]  En Ek sal die oorblyfsels van my erfdeel verwerp en hulle in die hand van hul vyande oorgee, sodat hulle vir al hul vyande ‘n buit en ‘n plundering sal word;
[15]  omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in my oë, en My gedurig geterg het van die dag af dat hulle vaders uit Egipte uitgetrek het, tot vandag toe.
[16]  En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het, behalwe sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE.
[17]  En die verdere geskiedenis van Manasse en alles wat hy gedoen het, en sy sonde wat hy begaan het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
[18]  En Manasse het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die tuin van sy huis, in die tuin van Ussa; en sy seun Amon het in sy plek koning geword.
[19]  Amon was twee en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Mesullémet, ‘n dogter van Harus, uit Jotba.
[20]  En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, soos sy vader Manasse gedoen het.
[21]  En hy het geheel en al gewandel in die weg wat sy vader bewandel het, en die drekgode gedien wat sy vader gedien het en hom voor hulle neergebuig.
[22]  En hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat en nie in die weg van die HERE gewandel nie.
[23]  En die dienaars van Amon het ‘n sameswering teen hom gesmee en die koning in sy huis omgebring.
[24]  Maar die volk van die land het al die samesweerders teen koning Amon doodgeslaan, en die volk van die land het sy seun Josía in sy plek koning gemaak.
[25]  En die verdere geskiedenis van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?