2015-03-22

Kaf: Baster Nasie


Hulle verkoop profesieë
asof dit soetkoek is
Hulle verkoop U boodskappe
asof dit sout bewerkstellig
Die leiers van U volk
is 'n dowe simbaal
En iewers het daar
'n kreet verdwaal
Moedswillige onkunde
beraam hulle wiskunde
Maar U Gees is flou
veral in hulle midde
Hulle sit 'n prys op U Mond
en weerklink dit deur 'n stuk roes
En hulle dink dat hulle
U hiermee kan beproef

Miga 3:1-12
[1]  Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie?
[2]  Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente;
[3]  en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in ‘n pot en soos vleis in ‘n pan.
[4]  Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.
[5]  So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle ‘n heilige oorlog!
[6]  Daarom sal dit nag word vir julle, sonder ‘n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word.
[7]  En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.
[8]  Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.
[9]  Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ‘n afsku het en al wat reg is, verdraai;
[10]  julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!
[11]  Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!
[12]  Daarom sal Sion om julle ontwil soos ‘n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.

Miga 7:1-20
[1]  Wee my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye.
[2]  Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net.
[3]  Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.
[4]  Die beste van hulle is soos ‘n doringstruik, die mees opregte erger as ‘n doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle verwarring daar wees.
[5]  Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê.
[6]  Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!
[7]  Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.
[8]  Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my.
[9]  Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.
[10]  Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die HERE, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate.
[11]  Daar kom ‘n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees.
[12]  Dit is ‘n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg.
[13]  Maar die aarde sal ‘n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge.
[14]  Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in ‘n bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae.
[15]  Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien.
[16]  Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word.
[17]  Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die HERE onse God, en hulle sal vir U vrees.
[18]  Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid.
[19]  Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.
[20]  U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met ‘n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.

Jesaja 10:1-34
[1]  Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe,
[2]  om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.
[3]  Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre?
[4]  Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
[5]  Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid!
[6]  Ek sal hom stuur teen ‘n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.
[7]  Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.
[8]  Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?
[9]  Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie?
[10]  Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,
[11]  sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?
[12]  Maar as die HERE al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.
[13]  Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ‘n maghebber neergewerp.
[14]  En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ‘n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ‘n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ‘n vlerk verroer of ‘n bek oopgemaak of gepiep het nie.
[15]  Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ‘n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ‘n stok hóm ophef wat nie hout is nie!
[16]  Daarom sal die Here HERE van die leërskare onder sy vettes ‘n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy ‘n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.
[17]  En die Lig van Israel sal ‘n vuur wees, en sy Heilige ‘n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.
[18]  Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer ‘n kranke wegkwyn.
[19]  En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en ‘n seuntjie sal hulle kan opskrywe.
[20]  En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid.
[21]  Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.
[22]  Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ‘n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.
[23]  Want ‘n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.
[24]  Daarom, so sê die Here HERE van die leërskare: o My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie.
[25]  Want nog ‘n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig.
[26]  En die HERE van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte.
[27]  En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.
[28]  Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly.
[29]  Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van Saul vlug.
[30]  Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Anatot!
[31]  Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling!
[32]  Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van Sion, teen die heuwel van Jerusalem!
[33]  Maar kyk, die Here HERE van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi;
[34]  en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal val deur die Heerlike.

Jeremia 51:1-64
[1]  So sê die HERE: Kyk, Ek wek op teen Babel en teen die inwoners van "die Hart van my Teëstanders" die gees van ‘n verwoester.
[2]  En Ek sal vir Babel wanners stuur wat hom sal uitwan en sy land leegskud; want hulle lê rondom teen hom op die dag van onheil.
[3]  Laat die skutter sy boog span teen hom wat span, en teen die een wat hom in sy pantser verhef; en spaar sy jongmanne nie, tref sy ganse leër met die banvloek!
[4]  So sal daar dan gesneuweldes val in die land van die Chaldeërs en die wat deurboor is, op sy strate.
[5]  Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die HERE van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.
[6]  Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon.
[7]  Babel was in die hand van die HERE ‘n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.
[8]  Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.
[9]  Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
[10]  Die HERE het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die HERE onse God!
[11]  Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die HERE het die gees van die konings van Médië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die HERE, die wraak van sy tempel.
[12]  Hef ‘n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die HERE Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.
[13]  Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.
[14]  Die HERE van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou ‘n vreugdegeroep aanhef.
[15]  Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand—
[16]  as Hy sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.
[17]  Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is ‘n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
[18]  Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
[19]  Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; HERE van die leërskare is sy Naam.
[20]  Jy is vir My ‘n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.
[21]  En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.
[22]  En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.
[23]  En met jou verbrysel Ek die herder en sy trop vee; en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy twee osse; en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.
[24]  Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die HERE.
[25]  Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die HERE; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak ‘n afgebrande berg.
[26]  En hulle sal uit jou geen klip neem vir ‘n hoek of ‘n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die HERE.
[27]  Hef ‘n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas, stel ‘n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane!
[28]  Heilig nasies teen hom, die konings van Médië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy.
[29]  Dan bewe die aarde en krimp inmekaar; want die gedagtes van die HERE kom tot stand teen Babel, om die land van Babel ‘n woesteny te maak, sonder inwoner.
[30]  Die helde van Babel het opgehou om te veg, hulle het gebly in die bergvestings; hulle mag het verdwyn, hulle het vroue geword. Hulle het sy wonings aan die brand gesteek, sy grendels is verbreek.
[31]  Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babel bekend te maak dat sy stad van alle kante ingeneem is;
[32]  en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.
[33]  Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos ‘n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog ‘n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom.
[34]  Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos ‘n leë skottel; hy het my verslind soos ‘n draak; hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.
[35]  Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en die verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldéa!
[36]  Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see droogmaak en sy fontein laat opdroë.
[37]  En Babel sal kliphope word, ‘n lêplek van jakkalse, ‘n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.
[38]  Almal saam brul hulle soos jong leeus, brom soos klein leeutjies.
[39]  As hulle verhit is, berei Ek hulle maaltyd en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate word en ‘n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie, spreek die HERE.
[40]  Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokke.
[41]  Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel ‘n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!
[42]  Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.
[43]  Sy stede het ‘n woesteny geword, ‘n dor land en ‘n wildernis; ‘n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.
[44]  En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.
[45]  Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!
[46]  En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar ‘n tyding kom in die een jaar, en daarna ‘n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.
[47]  Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.
[48]  Dan sal oor Babel juig hemel en aarde en alles wat daarin is; want uit die noorde kom die verwoesters oor hom, spreek die HERE.
[49]  Ook Babel moet val, o gesneuweldes van Israel, soos ook vir Babel geval het die gesneuweldes van die hele aarde.
[50]  Vrygeraaktes van die swaard, gaan weg, bly nie staan nie, dink aan die HERE uit die verte, en laat Jerusalem in julle hart opkom!
[51]  Ons staan beskaamd, want ons het smaadwoorde gehoor, skande het ons aangesig bedek; want vreemdes het gekom oor die heiligdomme van die huis van die HERE.
[52]  Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor sy gesnede beelde; en die gewondes sal kerm in sy hele land.
[53]  Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk—van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die HERE.
[54]  Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;
[55]  want die HERE verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.
[56]  Want ‘n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want ‘n God van vergelding is die HERE; Hy sal gewis vergelde.
[57]  En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap ‘n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.
[58]  So sê die HERE van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.
[59]  Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Serája, die seun van Nería, die seun van Magséja, toe hy saam met Sedekía, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Serája was laerkommandant.
[60]  En Jeremia het in ‘n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is.
[61]  En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde;
[62]  en sê: o HERE, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.
[63]  En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ‘n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi
[64]  en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees. Tot sover die woorde van Jeremia.